Vincent vertel - Argief

'Mondfluitjie' Van Rooyen maak CD

NADAT hy jare gelede 'n reeks bloutjies met platemaatskappye geloop het, het Vincent van Rooyen besluit: nooit weer nie. ''Ek het my laaste plaat in 1975 gemaak,'' vertel dié leier van Suid-Afrika se bekendste mondfluitjie-trio, ''en ek was vasbeslote om myself nie weer vir so iets in te laat nie. 

Maar toe word ek sestig en my ou vriend, Hendrik Swanepoel, kondig aan hy weet nie eintlik wat om vir my te gee nie, maar hy't gedink miskien moet hy my help om 'n CD te maak. Toe dag ek: 'Ag wel, ek kan seker net sowel 'n CD maak voor ek doodgaan'. Ons het Swannie in 'n baie kort tyd opgeneem.'' Nog 'n vriend, Anton Goosen, het die produksie gedoen, en Jannie du Toit se NJS-Musiek het gesorg dat dit op laserskyf verewig word. Vincent sê Swannie is op die populêre mark gerig. ''Ons klank is uniek. Daar is niks soortgelyks in Suid-Afrika beskikbaar nie. Die individuele liedjies is egter eenvoudig genoeg vir enige mondfluitjie- geesdriftige om saam te speel.'' 

Vincent geniet self ernstige musiek egter meer. En tog het hy niks van die onderwerp geweet tot kort ná sy twintigste verjaardag nie. ''Ek was 'n skrynwerker. Ek was op pad huis toe en ek het sewe sjiellings en ses pennies in my sak gehad. Langs die pad is ek by 'n apteek verby, en in daardie dae het apteke mondfluitjies aangehou. Op die ingewing van die oomblik het ek besluit om een te koop. Toe stap ek huis toe en tuis speel ek vir my ma Drink to me only. Dit het my sewe minute geneem om te leer speel. Of liewer, om 'Drink to me only' te leer speel.'' Vincent het dadelik die potensiaal van sy instrument raakgesien en besluit dis tyd vir formele musieklesse. ''Maar drie onderwysers in 'n ry het gesê: 'Nee man, kry vir jou 'n ordent like instrument, soos 'n klavier'. Toe leer ek maar myself.'' 

Vincent was gou versot op sy mondfluitjie, en kort voor lank het hy elke aand ná werk tot middernag geoefen. Binne drie jaar het hy uitvoerings begin gee, en uiteindelik het hy saam met die Johannesburgse en Kaapstadse simfonie-orkeste opgetree. Negentien jaar gelede het hy 'n mondfluitjie-trio saam met die Hopper-broers begin, en hulle is vandag nog bymekaar. In 1987 is die groep genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig by die wêreld-mondfluitjiewedstryd, waar hulle derde geëindig het. Twee jaar later was hulle tweede. Die volgende wedstryd is oor drie weke. Gaan hulle hierdie keer wen? ''Ag nee, ons het nie geld om te gaan nie. Ons kan nie borgskappe kry nie en die Regering is bankrot,'' sê Vincent. 

Ondanks sy liefde vir sy instrument, en sy onteenseglike sukses, het Vincent se musiek wat gou ook komposisie ingesluit het altyd 'n stokperdjie gebly. Ná verdere studie het hy uiteindelik in die fotografiebedryf geland, maar nadat die maatskappy waarvoor hy gewerk het sowat drie jaar gelede gesluit is, is hy nou ''amptelik 'n werklose armblanke''. Werkloos of te nie, hy werk aan sy volgende laserskyf. ''Dit gaan ernstiger wees, met 'n sterk klassieke inslag.''

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen